Welkom

Om God lief te hê,

ander lief te hê en die wêreld te dien

WIE IS ONS

Ons DROOM/VISIE is: Vloei en lewe Christus!

Ons glo ons geestelike einddoel help ons baie om ‘n sterk gevoel van rigting te hê. Hierdie duidelike sentrale doel gaan gepaard met rigting, betekenis en positiewe verwagtings.

 

Die NG Kerk Witbank-Suid, is ’n missionale kerk wat aktief deelneem aan die sendingsopdrag van God. Die kerk, as God se mense, die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees, is dinamies en verander voortdurend

 

Ons gebed is dat die lewende water soos ‘n bruisende stroom deur ons gemeente sal vloei en wyd sal vertak om die gemeenskap en die wêreld te reinig, lewe te gee en hoop te bring. Die oorsprong van ons heil lê in die heiligdom, God se woonplek -en dus by God self. Ons bely dat Jesus Christus die lewende water, God die Vader die oorsprong en die Heilige Gees die vernuwende krag is.

Kom ons kyk mooi na ons gemeente se visie: Vloei en lewe CHRISTUS! Wat is in hierdie visie vervat?

 

God se wil is dat elke kind van God ’n leefstyl soortgelyk aan Jesus Christus sal uitleef. Ons lees: “in alle opsigte groei na Christus toe”(Ef 4:15); “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het”(1 Joh 2:6); ”want om te lewe, is vir my Christus”” (Filip 1:21); “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word”(2 Kor 3:18b).

Ons wil as dissipels van Jesus deur die werk van die Heilige Gees soos Jesus leef. Vloei en lewe Christus het dimensies van BELIGGAMING/eilige Gees INKARNASIE VAN CHRISTUS. Die inkarnasie van God in Jesus Christus het onder meer die volgende vier dimensies:

·         Teenwoordigheid

·         Nabyheid

·         Weerloosheid

·         Verkondiging

Die inkarnasie (menswording) van God in Jesus Christus is ook ’n opdrag aan die kerk om soos Jesus Christus te wees, Jesus Christus se hande, voete, ore en oë in die gemeente en die wêreld te wees.

 

* Teenwoordigheid – Jesus Christus is die ewige God lewend teenwoordig in sy skepping. Dit beteken onder meer dat die kerk eerder na mense toe moet gaan as wat die kerk in die eerste instansie daarop gerig is om mense na die kerk(gebou) toe te bring. Christene se lewens is die boodskap! Dit onderstreep die belang van verhoudings met mense.

 

* Nabyheid – in Jesus Christus het God so naby aan ons gekom dat God toeganklik geword het. Hy het die skeiding verwyder en sy kinders word selfs as tempels van die Heilige Gees beskryf. Die kerk word nie net uitgedaag om teenwoordig te wees waar mense is nie, maar om dit op so ’n manier te doen dat mense dienend vir mekaar beskikbaar is. Nabyheid is om empatie te hê en om in die skoene van ander te staan en die situasie vanuit hulle perspektief te kan verstaan.

 

* Weerloosheid – Jesus Christus se vleeswording (Fil. 2:6 ev) beteken Hy het soos die nederigste van nederiges tussen ons kom woon. Hy keer alle vorme van mag om en wys dat weerlose diensbaarheid die krag het om die ganse wêreld te verander. Die normale magspolitiek werk nie in sending nie. Die antwoord lê eerder by nederigheid en diensbaarheid.

 

* Verkondiging – Jesus Christus se menswording is die Evangelie. Daardeur kondig Hy aan dat God se nuwe bedeling aangebreek het en daarom roep Hy mense op tot bekering en geloof. Goeie Nuus is nog steeds relevant en betekenisvol vir mense. ’n Inkarnasie-lewenstyl beteken juis dat gelowiges altyd gewillig sal wees om die Goeie Nuus met ander mense te deel.

KERNWAARDES

NG Gemeente Witbank-Suid het kernwaardes wat rigting gee aan wat ons wil doen. Hierdie waardes wil ons weerspieel die hart van die gemeente en bepaal ons dag-tot dag besluite

 

  • Dit gaan om God en sy wil.
  • Om ons oop te stel vir die stem van die Here
  • Om in liefde na mekaar te luister
  • Omgee vir mekaar.
  • Om dissipels van Jesus Christus te wees en te maak
  • Om ons te gee in die gemeente se opbou
  • Om in alles wat ons doen ‘n kerk met momentum te wees.
  • Om uit te reik en ‘n verskil te maak.
  • Om doelgerig te wees in alles wat ons aanpak en te weet waar ons wil uitkom?
  • Om effektief te kommunikeer sodat die inligting houding en gedrag verander.
  • Om biddend voor God se aangesig te bly.
  • Om toegerus te wees vir effektiewe dienswerk in die koninkryk van God.
  • Om voortdurend te evalueer en te vra: Is ons nog op koers? Is ons besig met die regte dinge en doen ons die regte dinge reg?
  • Effektiewe leierskap wat opofferend, kundig en met passie lei.

ONS GEMEENTESTRATEGIE

Hoe ons ons taak in die praktyk wil uitleef, word verwoord in die volgende:

 

Genadeverbond: Ons is deur genade gered, en moet dieselfde genade in die praktyk aan ander mense betoon. Daarom is dit vir ons gemeente strategies belangrik om die bediening van genade in stand te hou.

 

Geloofsekerheid: Ons is gered deur Christus se kruisdood wat as losprys vir ons sonde dien. Daarom is dit belangrik om seker te maak dat elke lidmaat geloofsekerheid van verlossing, regverdiging, versoening en die ewige lewe het.”

 

Getuig: Dis vir ons belangrik om ons gemeente toe te rus en in staat te stel om met selfvertroue oor Christus te getuig.”

 

Groei: Geestelike groei is normaal en baie belangrik vir elke gelowige. Ons fokus daarop om elke lidmaat te ondersteun in hul geestelike groei proses.

 

Groepe: Ons glo dat verhoudinge die beste gevorm word tussen ‘n klein groep mense, en dat dit is waar elkeen geborge behoort te wees. Ons wil verseker dat elke lidmaat deel sal word van ‘n GG (Geloofsgemeenskap), Omgeegroep of Kleingroep”

 

Gawes: Dienswerk is nie opsioneel nie, maar behoort normaal te wees vir elke gelowige. Daarom is dit vir ons gemeente belangrik om seker te maak dat elke lidmaat weet wat sy of haar gawes is, en daarvolgens in en deur die gemeente diens lewer.”

 

Gebed: ‘n Toegewyde en aktiewe gebedskultuur word in ons gemeente gehandhaaf, in afhanklikheid van ons Here. Elke lidmaat behoort die belang en waarde van ‘n aktiewe gebedslewe te kan insien, en word aangemoedig om deel te vorm van ‘n nimmereindigende gebeds-front.”

 

Gehoorsaamheid: Dis ons hart dat elke lidmaat in toegewyde gehoorsaamheid aan God se Woord sal bly leef, aangesien geen groei of heiligmaking moontlik is sonder gehoorsaamheid nie.

 

Gee: Lidmate behoort ‘n lewe van goeie Bybelse rentmeesterskap te handhaaf in die hantering van hul besittings en finansies. Daarom is dit vir ons gemeente strategies belangrik dat elke lidmaat die Bybelse beginsels rondom geld sal verstaan en toepas.”

 

Gaan: Elkeen van ons staan in reaksie tot die Groot Opdrag, direk of indirek, en moet deel vorm van gestuurdes met die evangelie, ook na die uithoeke van die aarde. Daarom fokus ons daarop om ‘n aktiewe bydrae te lewer in die missionêre uitreik na ander kulture en wêrelddele.”

GESINSBEDIENING

Gesinsbediening het te doen met familiesisteme en gewoontes waarin norme en waardes vasgelê word en van geslag tot geslag oorgedra word. In hierdie bediening gaan dit oor die welsyn van gesinne en enkellopendes.

 

Gesinsbediening bou gesonde gesinne. Gesinsbediening is óók jeugbediening. Huwelike en Gesinne (HEG) – HEG is ʼn akroniem vir dit wat in fokus is in die gemeente. Ons moet as gemeente mekaar versorg en ondersteun sodat daar HEGTE huwelike en gesinne sal wees. Lidmate se huweliks- en gesinslewe is vir ons ʼn prioriteit.

 

Gesinsbediening en Jeugwerk loop hand aan hand: Mense is in die gemeente in bepaalde verbande/sisteme. Hierdie primêre sisteem is sekerlik die huwelik, gesin en daarna familie, gemeente, skool, e.d.m.

Die kerk se taak is om in die eerste plek met mense binne hulle primêre verbande ʼn pad te loop van omgee, liefde, versorging, opbou en groei.

 

Ons wil graag ʼn klimaat waar geleentheid aan elke lidmaat gebied word om iemand te help of om deur iemand gehelp te word. Kleingroepe is die beste manier om hierdie ondersteuning aan mekaar te gee en in die geloof te groei. Ons groei geestelik deur naby aan mekaar te lewe, deur moeite te doen om mekaar beter te leer ken, deur mekaar aan te moedig en op te bou.

IDENTITEIT/WIE IS ONS

GEREFORMEERD    (IDENTITEIT/WIE IS ONS)

Ons Gereformeerdheid het te doen met ons geloofs-identiteit, die “wese” en “essensie” van ons eie geloofsoortuiging. Die Gereformeerde lewe, is ‘n lewe voor God se aangesig (Ps 139) en om voortdurende die Woord van God te hoor. God praat deur die Woord. Ten volle steun ons op die klem wat Christus “vir ons” en “in ons plek” gedoen het. Christus alleen verwerf vir ons die heil/verlossing en sy sterwe was vir ons in ons plek. Hierdie verlossing kry ons verniet, dis genade. Die Gereformeerde manier van lewe is vir ons om volgens God se wil te leef uit dankbaarheid.

 

Elkeen wat met stukkende sondaarsklere voor Christus opdaag, kan maar weet: daar wag genade. Genade is vir God ʼn werkwoord en vir elke ontvanger daarvan ʼn ruswoord. Die genade wat ons ontvang het, maak ons nie passief, onverskillig en ondankbaar nie. Nee, die genade sit ons elke keer opnuut binne die kragveld van die Heilige Gees om vrug te dra én om tot rus te kom in Sy teenwoordigheid/genade. Sy genade gee ons krag vir die lewe en Hy maak ons bruikbaar vir sy werk op aarde.

 

GESTUUR (IDENTITEIT/WIE IS ONS)

Saam met die res van die NG Kerk in Suid-Afrika is ons oortuig ʼn gemeente moet ʼn gestuurde karakter vertoon. Die kerk staan voor die uitdaging om inhoud te gee aan haar gestuurdheid. In so ʼn proses is die volgende vir belangrik: Die eerste prioriteit is saam met die Here, om sy stem te hoor (die Woord) en aan te sluit waar God rééds besig is. Die belangrikste in ʼn gemeente se “wees” is: Wandel met God, Hoor sy stem, Bly binne sy wil. Kom in voeling met die Gees. Om te groei in sensitiwiteit vir die stem van die Gees moet mens tog leer om daarop te fokus dat God altyd by ons is, en ons op allerhande maniere, gewoon en ongewoon, wil lei. Ken die Woord. Bid dat die Gees jou sensitief sal maak om God se wil. Gee ag op wat God doen: Waarmee is God die afgelope tyd in my/ons lewe besig? Ons konteks moet verstaan en betrek word: Mense naby en verder – en hulle lief en leed, drome en vrese, ideale en mislukkings, ongeag geslag, afkoms, status, ens., het behoefte aan begrip, respek, aanvaarding, vertroue en openhartigheid.

 

GAWES (IDENTITEIT / WIE IS ONS)

Ons wil as die liggaam van Christus funksioneer. As liggaam van die Here (1 Kor 12) sien ons almal as deel van “die span”. ‘n Spanbenadering is vir ons ʼn aanvullende benadering (Wat by die een persoon ontbreek is by die ander persoon ʼn sterk punt) en die uitdaging is deurentyd om ruimte te skep vir unieke gawes/talente wat van die spanlede ontgin kan word. Toerusting van elke lidmaat is belangrik. Toerusting op ʼn intellektuele-, emosionele- en vaardigheidsvlak kan onderlinge sorg en die gemeente opbou en uitbou net bevorder. Toegeruste mense sal uitreik na mekaar, mekaar ondersteun, dra, groei en opbou. Kom ontdek jou plek. Raak betrokke en maak ‘n verskil.